29 Oct Karoo Café – POMP
Ek veronderstel dat indien daar ‘n Orde vir Lewende en Gestorwe Digters in Pretoria sou bestaan, die Karoo Café die ideale plek van bymekaarkoms sou wees. Amper soos ‘n geheime plek waar die geskrewe woord ook ‘n eie bestaansreg aan tafel het. Waar die gesproke woord ook ‘n besoeker word in die gesprekke wat rondom die tafels sou plaasvind. Die Karoo Café bied ‘n simboliese skuiling en vesting vir die gedagtes van ‘n soekende kreatiewe wese, skrywer en of leser.
Indien ‘n mens die alombekende Lynnwoodweg as treinspoor deur Pretoria sou kon voorstel, verbeeld die spoor ‘n lang pad deur die uitgestrekte Karoo. Dis asof dit nodig is om eers verby die oenskynlik onopmerksame gebou te ry sodat mens kan omdraai om twee keer te kyk om twee keer te kan sien. Eers na die verby ry, omdraai en terug ry, stop die trein by sy bestemming: Platform nommer 141. Alle intellektuele bagasie word tot stilstand gebring en afgelaai onder die naamlose bome wat elke besoeker begroet. Met die eerste tree op die grondpad, wonder mens of die trein wel op die regte plek tot stilstand gekom het. Soms waai daar ‘n wind en as mens mooi luister hoor jy stemme deur die geruisel van boomblare fluister en jy weet oombliklik dat hierdie trein op geen ander plek sou kon stop nie. Daar is maar een eindbestemming: Karoo Café.
Die Karoo Café word onderhou deur Mareli Robbertze en vorm die hart van die kreatiewe omgewing wat geskep is op die perseel wat bekend staan as die Karoo Vierkant. Die ander twee komponente is die Karoo Kunshuis, wat onderhou word deur Carin Erasmus, asook ‘n pottebakkers-ateljee wat onderhou word deur Elza van Dijk.
Dit gebeur so baie dat ‘n idee onderontwikkeld bly, juis omdat die mens die idee bly koester, en nie die grens van die idee strek nie. Sekere idees het nodig om die gedagtegrens oor te steek om meer volledig te word en in ‘n fisiese werklikheid in te vloei. Die Karoo Café is ‘n goeie voorbeeld van so ‘n idee wat ‘n werklikheid geword het. ‘n Werklikheid wat veronderstel is om ‘n platvorm te bied vir die ontstaan van nuwe idees wat ‘n kreatiewe gemeenskap konstant sal bly herskep en voortskep.
John du Raan het die uitgestrekte Karoo karakter in die idee van ‘n kafee omskep. Hy het nie net hierdie idee uitgedink nie, maar ook tot ‘n werklikheid omskep. Die aanvanklike idee agter die restaurant was eerder om ‘n verlengde sitkamer te bou waar eenders denkende besoekers slegs op uitnodiging bymekaar kon kom. Later het die verlengde sitkamer-idee gegroei tot ‘n ope uitnodiging aan eenders denkende besoekers wat hul denkwyses en leefwerelde met mekaar wil deel. Volgens John is elke besoeker ‘n mede-eienaar.
Daar is tydskrifte en bordspeletjies op boekrakke wat nie net deel vorm van die visuele karakter nie, maar ook sorg vir laataande se gesoekery na nuwe woorde wat die uitvinder van Scrabble op sy kop sal laat staan.
Die gebou wat nie ‘n gebou is nie, het organies ontstaan en is ‘n merkbare voorbeeld van ‘n gebou met ‘n karakter en identiteit van sy eie. Hierdie identiteit kan gesien word as ‘n visuele weerkaatsing van die nimmereindigende Karoolandskap wat ‘n baie spesifieke ervaring van geheimenisse in sy uitgestrekte natuurlike droe bestaan ontbloot. Daar sal jy miskien ook uitvind wie Olive en Ighor is.
Die Karoo Café is amper soos ‘n stad met ‘n hart en ‘n karakter, wat gevoed word deur die bewoners as gereelde besoekers vir solank as wat hulle hulself toelaat om binne te vertoef. Die identiteit wat geskep word is dieselfde identiteit wat deur die besoekers in die gebou agtergelaat word.
Die voorstelling van die gebou het my laat dink aan die Amerikaanse argitek, Louis Henry Sullivan (1856-1924), wat bekend was vir sy strewe na funksionele ontwerp. Die gebou beant-woord dan as funksionele ruimte, die stelling: form follows function. Strukturele elemente is sig-baar regdeur die gebou, maar word onbewustelik deel van die dekoratiewe onderliggende element wat die ruimte op meer as een vlak toelaat om asem te haal.
In die boek: Design: Intelligence made visible deur Stephen Bayley en Terrance Conran, maak Bayley die volgende stelling: “Today design has both these senses: a useful mixture of creative expression and intellectual purpose. Design is an art that works.” Dis amper asof die struktuur van die gebou deurskyn en lewe gee aan ‘n geometriese beeldhouwerk waarbinne ‘n mens vry kan rondbeweeg. Die ingang na die ruimte konfronteer mens dadelik met wisselende vlakke van golwende sinkplaat en lopende water. Dit klink soos ree’n en val in die langwerpige visdam met rooi vissies wat soos skerwe lig deur die water beweeg. Die ruimte speel met vlakke van lig. Panele wat oop of toe gemaak kan word, manipuleer die hoeveelheid lig wat in en uitgelaat word. In die aand wanneer dit donker is, is daar honderde ligte wat amper soos sterre lyk en honderde kerse of lampies wat lig op die tafels werp. Dit laat my dink aan ‘n gedig van Anne Michaels uit haar bundel POEMS: “Not that paint captures light, but that light breaks free from the paint.”
Tydens ‘n gesprek met John du Raan verwys hy na die 19de eeuse skilder Claude Monet se reeks kafee skilderye wat die diversiteit en vooruitgang van die 19eeu in Frankryk uitbeeld. Hy verwys ook na die Amerikaanse skrywer, Ernest Hemingway.
Hemingway ontvang in 1953 die Pulitzerprys en in 1954 die Nobelprys vir Literatuur. Eers na sy dood in 1964 verskyn die boek: Moveable Feast, waar Hemingway met woorde deur 1920 se skrywers reis. Kringe wat gelewe het in die straatkafee’s van Parys, Frankryk. Hierdie boek het ‘n duidelike invloed op die karakter van die Karoo Café uitgeoefen.
Ek onthou ek eendag iewers gelees het dat Ernest Hemingway gese het ‘n mens mag nooit oor ‘n plek skryf terwyl jy jouself daar bevind nie. Volgens hom vind mens eers werklik perspektief weg van daardie plek.
Die vreemde gedagte het by my opgekom dat die Karoo Café jou wegneem van Pretoria en na die werklike Karoo verplaas in ‘n gedagte omgewing waar mens graag wil wees. Asof die restaurant deel word van sy eie Karoo-perspektief.
Basiese boumateriaale is gebruik vir die oprig van die gebou. Materiale wat selfonderhoudend is en nie noodwendig argitektoniese tegnologiese grense wil verskuif nie. Respek vir die aardsheid word duidelik uitgelig. Daar heers ‘n gevoel van eerlike ontwerp wat aansluiting vind by die idee van artistieke vryheid en artistieke suiwerheid. Ek het nog altyd gewonder of ‘n gebou wel ‘n voorstelling van begrip sou kon word.
Die interieur bestaan gedeeltelik uit houttafels en houtstoele wat rondom die tafels gerankskik is. Boekrakke met leesstof bied die besoeker die geleentheid om ander se woorde te beleef. ‘n Denkbeeldige lyn verbind die werklikheid en die droom in gesprekke wat plaasvind en nie plaasvind nie. Wanneer mens opkyk, lyk die dak nie soos ‘n dak nie. Later het ek uitgevind die dak bestaan uit kweekhuismembraam. Dit skep ‘n kweekhuisatmosfeer van gedagtes waar die natuurlike eenvoud in die ontwerp daadwerklik integreer met die ervaring van die kafee-idee.
Dalk vang ‘n boek wat jy lankal wou lees jou oog, maar eintlik van vergeet het. Dan kan jy die hele dag deurbring in die boekraksitkamer van die Karoo Café.
Die spyskaart is van so ‘n aard dat mens die ganse dag muffins, croissants, hoenderlewers, of selfs ‘n Gauteng ontbyt of Karoo Veld ontbyt, kan nuttig. Verderword ‘n alternatiewe spyskaart aangebied wat bestaan uit, onder andere, Karoo Lamsburger, Karoo slaai, Karoo Lamskyf of tuisgemaakte quiche. Die Karoo-aanslag is bykans in elke gereg te bespeur. Self die nagereg vereer die Karoo met ‘n spesiale Banoffee Pie. Aandete bestaan hoofsaaklik uit spesiale Karoo-geregte wat bedien word met fyngemaakte aartappel, botterskorsie en pangebraaide groente.
Die Karoo Café bied die geleentheid aan vir woorde om gebore te word. Indien die mure van die Karoo Café die buiteblad van ‘n ongepubli-seerde boek sou wees, sou die boek uit duisende skoon bladsye bestaan waarop elke besoeker sy eie verhaal sou kon neerskryf. Die teks sou daagliks veranderlik wees, maar die skrywers dieselfde skrywers, die kunstenaars sou konstant met verskillende kleure speel en lewe gee aan nu-we kunswerke. Ek wonder wat die titel van die boek sou wees en wie die voorwoord ter bekend-stelling van die boek sou skryf. Ek wonder of ‘n vergete digter soos Freda Plekker tevrede sou wees om herontdek te word met ‘n koppie koffie in die vroee oggendson op die stoep van die verbeelde Karoo.
“maar hou een kamer oop in jou hart vir die vermoeide bagasie van my woorde al is dit net ter wille van die lugleegte” Soms kleef daar ‘n onrustigheid aan die dag wat ‘n plek soek om iewers neer te le. Asof mens die onrustigheid probeer verstaan en ‘n konteks daarvoor soek. Eintlik is dit maar net ‘n soeke na ‘n plek waar jy grensloos kan bestaan om jou gedagtes te herrangskik. Dis soos Rosa Keet sou se: “Hier kan ons asemhaal.“
No Comments